Dit is nie goed vir die mens om alleen te wees nie!?!


Alles wat geskape is was goed, behalwe…

Daarna sê die Here God: “Dis nie goed dat die mens alleen is nie. Ek sal vir hom ’n metgesel maak, sy gelyke wat hom kan help.” (Ge 2:18)

Timothy,
Toe God alles geskape het was na elke skepping die opmerking dat dit goed was, dit was dus ‘n kwalitatiewe stelling, ‘n boom die mens en visse was God geskape, die kwaliteit onbeskryflik perfek! En dan is dit asof God dit oordink in Gen 2:18 die mens alleen eties nie goed nie.
Binne die raamwerk openbaar God sy Goddelike bloudruk van eenheid.

i. Hoekom is eenheid vir God so belangerik?

God het Adam en Eva apart van mekaar gemaak; alleen en tog volmaak. God maak nie die vrou omdat hy sien dat Adam te kort kom nie, maar omdat dit sy lewe gaan verbeter.

Jou huweliksmaat moet jou lewe verbeter.

ii. Die wêreld het onderdanigheid so negatief gemaak dat almal gelyk wil wees, hoe moet ek as gelowige na dit kyk?
Ek dink God het ons gelyk geskape, maar die vloek het ons verder van mekaar gedryf. Die man is gevloek om te werk en die vrou is gevloek om onderdanig aan haar man te wees. Vandag sien ons dat vrouens ook moet werk en dat mans nie meer die broek in die huis dra nie, so die vloek het maar net erger en erger geraak.

Hoe kan ons dit teen werk? Om terug te keur tot wat God ons voor gemaak het.
• Adam wat ’n visie het en wat daarna toe werk.
• Eva wat verlief raak op haar Adam se visie en missie en hom bystaan en help.

Al twee is uniek, individueel en ondersteun mekaar.
Mans wat luister vir hulle vrouens gee vir die vrou ruimte om in haar skeppingsdoel te beweeg HELP
Vrouens wat toelaat dat hulle mans die leiding neem, gee ruimte vir hom om sy skeppings doel te doen.

iii. Timothy, wie moet die broek dra in ons huwelik? Is dit enigsins belangerik, hoe dink God daaroor?
Wel, as seksuoloog sal ek graag wil sien dat niemand die broek dra nie ;)

Die een is nie beter as die ander nie en al twee het respek vir mekaar.
Onthou jou huweliksmaat is veronderstel om mekaar se lewe te verbeter. So soms sal die man sterk wees en soms sal die vrou sterk wees, maar albei moet leer om op mekaar te steun.

iv. Wat is belangerik om te onthou as ek wil hê God moet my huwelik seën?
Te veel van ons wag dat God ons huwelike moet seën. In waarheid wag God dat ons ons eie huwelike seën, deur om mekaar se lewens te verbeter.

NB. jy moet jou reg opgee om in die reg te wees. Jy kan elke argument wen in jou huwelik en nog steeds op die punt van skei staan.

V. Is vry sonde? Vry bedoelende vat, soen ens ens…


Stuur jou vrae na timothy@gesondeseks.co.za

V. Is vry sonde? Vry bedoelende vat, soen ens ens…

A. Ek sal graag wil hoor wat is jou ens ens… :) Die reëls wat die kerk vir ons gestel het rondom ons seksualiteit was bedoel om ons te beskerm, want verhoudings is dié plek waar ons die seerste kan kry. Maar ongelukkig het hierdie “reëls” – “Dit is sonde”, “Dit moet wag tot die troudag”, “Dit sal God se hartseer maak”, “Dit is wellus”, ook skuld gevoelens mee gebring en ’n swaar las op baie individue en paartjies kom sit. Reëls sonder om die groter konsep te verstaan gaan jou of rebels maak teen dit, of dit gaan jou gees knak. In hierdie geval sal seksuele skuld ’n groot gewig rondom jou verhouding wees. So ek gaan nie vir jou sê wat jy mag en nie mag doen nie. Ek gaan vir jou die groter prentjie skilder. Dit is jou lewe, jy kan jou eie besluite maak. (Wat die meeste van ons in elk geval doen)

1. Erotiese liefde (Vry, vat, soen ens ens…) is alles deel van die liefde wat God vir die mens gegee het om te geniet. Spreuke 5:18-19 “Sing die lof van jou eie fontein, verheug jou oor jou eie vrou, so vol liefde, so mooi soos ‘n takbok, soos ‘n ribbok. Geniet voluit van haar liefkosings, laat dit jou deurentyd bedwelm.”
En is dit nie so dat erotiese liefde ons almal bedwelm nie? Dit is goed dit moet so wees. Geniet dit.

2. Trouheid (Commitment liefde) ’n mens se seksualiteit word nie aangeskakel eers wanneer jy trou nie. Die fisiese aantrekking begin by die oomblik wanneer julle mekaar se oë vir die eerste keer vang. En soos wat julle verhouding en liefde groei raak die trouheid (belofte om nie meer seer te maak nie) groter en groter. Erotiese liefde is blind en dink nie voordat hy iets doen nie, daarom moet ons na Spreuke 5:15-16 ook luister “Jy het tog self ‘n vrou, jy het tog self ‘n put met water: drink die strome uit jou eie fontein. Moet jou fonteine dan ook die wêreld vol loop, jou strome water oral heen vloei?”

Ten slote: Die groot prentjie is dat Erotiese liefde en trouheid behoort saam en daarom kan daar nie ’n reël wees wat deur die bank vir almal geldig is nie, want nie alle verhouding het dieselfde belofte van trouheid aan mekaar nie. En om te trou net vir trou is ook nie die antwoord nie, want wat beteken dit as jy net paar jaar later mekaar skei.
Daarom moet elke paartjie vir hulleself oordeel, wat is vir hulle eties reg of nie.

Stuur jou vrae na timothy@gesondeseks.co.za

Wat wil die moderne vrou van haar man hê?


Wat wil ’n vrou hê?

Vroeër jare was die antwoord maklik: Bring die brood huis toe, dissiplineer die kinders, beskerm jou huisgesin . . . sou vroue sê.

Vandag is dinge veel meer ingewikkeld en daardie lysie van eise verskil van vrou tot vrou.

Wil hulle hê die deur moet vir hulle oopgemaak word? Of moet ons hulle nie ‘onderskat’ nie? Moet ons vra wat pla of moet ons liewer stilbly?

Om die antwoord te kry op die vraag: “Wat wil die moderne vrou van haar man hê?”, is elke man se soektog en nogal ’n ware enigma.

Ek kan darem sê na sewe jaar verstaan ek my vrou beter, want ek besef nou dat daar nog baie is wat ek nié van haar nie verstaan nie! Dalk is dit God se manier om ons as mans aktief by ons vroue betrokke te hou? Want as ’n mens al die antwoorde ken, raak die werk baie minder!

Ek het so ver drie spesifieke behoeftes geïdentifiseer wat mý moderne Eva van my wil hê: Sy wil by my veilig voel; sy wil hê dat ek haar moet begeer en romanties moet wees; en (dalk die mees afgeskeepte een) sy wil hê dat ek vir haar moet luister en haar emosies moet respekteer.

Dit raak net egter ’n bietjie ingewikkeld as sy dit álles gelyktydig wil hê!

Ek kan onthou toe dit tyd geword het om my swanger vrou hospitaal toe te neem. Ek moes vir haar luister en verstaan dat sy baie bekommerd en benoud voel. Dié inligting moes my tot aksie laat oorgaan om haar hospitaal toe te jaag, maar nie voor ek die deur vir haar oopgehou en haar gekomplimenteer het oor hoe mooi sy lyk nie. Soos wat ek deur die verkeer in en uit duik, oor oranje ligte versnel, vorder ons goed. Heel trots op myself, my oerinstink en my gedrewenheid om Vroulief vinnig genoeg by die hospital te kry. En ewe skielik, so uit die bloute, kry ek ’n klap teen my skouer van my vrou wat vir my sê ek moet veilig en versigtig ry!

So, eintlik sal daar altyd elemente van my moderne vrou wees wat ek nie verstsaan nie, want dis maar net nie hoe my moderne man-brein werk nie. Wat ek wel verstaan, is dat my lewe dolleeg en vervelig sou wees sonder haar aan my sy. Dis dus nodeloos om te sê dat ek dié soektog met ’n breë glimlag bly voortsit om die antwoord te vind: “Wat is dit wat mý moderne vrou van my wil hê?”

Wat moet ‘n Christen vrou doen as haar man niks van God wil weet nie?


Wat moet ‘n Christen vrou doen as haar man niks van God wil weet nie?

En julle, vroue, julle moet julle eie mans se gesag oor julle aanvaar, selfs as hulle nie die Goeie Nuus glo nie. Sonder dat julle ’n woord hoef te sê, sal julle leefstyl hulle vir Christus wen. (1 Pet 3:1)

Timothy,
Van Paulus kan ‘n ou nog sê hy het baie dinge kwytgeraak omdat hy dalk nie self getroud was nie, maar ons weet Petrus was. Ek kyk na die skrif en wonder hoe prakties dit kan wees.

i. Wat staan my as gelowige te doen wanneer ek ‘n passie vir God het maar my huweliksmaat kan net nie traak nie? Wat is die wyse ding om te doen?

Ek moet net hier noem dat dit verskriklik moeilik moet wees om in ’n huwelik te wees waar jou huweliksmaat nie jou geloof deel nie. Christenskap vereis ‘n sekere manier van lewe, ’n hoër morele kode as iemand wat nie gelowig is nie. Hier kan verseker baie konflik in ’n huwelik en persoonlik hartseer veroorsaak. Daarom gee God vir ons ’n manier hoe om dit te hanteer. 1 Petrus 3:1 maak dit duidelik dat ten spyte van die mans se geloofsoortuiging, moet die vrou nog steeds aan haar man onderdanig wees en niks sê nie.

Wow, vrouens wat niks mag sê nie? Die vrou se rol in ’n huwelik is nie om die man tot bekering te bring nie. Dit is nie om die man te lei nie, nog sy pastoor te wees nie. Die vrou se rol in die huwelik is om sy helper te wees. Dit wil sê dat wat ook al die man besluit om te doen, moet sy hom help, ondersteun en bystaan.

Daar is ’n mooi sê ding wat ek lank terug gehoor het wat sê: “I won’t ask the question, until I am asked the question.” Met ander woorde, ek sal nie jou op jou saligheid bevraagteken nie, totdat jy vir my leidraad gee dat jy wonder oor jou eie saligheid.

Jesus sê ons moet die goeie nuus versprei. Wel, om mense te vertel dat hulle hel toe gaan, is nie goeie nuus nie. En baie Christen vroue is so desperaat om hulle mans tot inkeer te kry dat hulle net die hele tyd vir die man preek. Jy weet? Die man is ’n trotse-ding en gaan nie sommer in enige iets in geboelie word nie. God het dit geweet. Petrus het dit geweet, en daarom staan daar geskrywe: “julle leefstyl sal hulle vir Christus wen.” Watse leefstyl? Waar jy jou man bedien en nie bepreek nie.

As ons mooi na Jesus se bediening gaan kyk, sal ons sien dat Hy meer mense met liefde bedien het as wat hy vir hulle bepreek oor wat hulle moet en nie moet doen nie. Jesus wat sy dissipels se voete was, is dalk ’n goeie voorbeeld om te wys wat is die kortste pad na die mens te hart…om nederig te kom en te dien.

ii. Beteken dit ek moet glad nie kerk toe gaan, of oor die Here getuig in my familie opset nie?

As dit meer vir jou man gaan beteken as jy saam met hom Sondag oggend ’n movie gaan kyk, is dit beter vir jou huwelik en jou man se saligheid om die movie te kyk. Jy hoef nie jou eie geloof op te gee vir hom nie, maar jou geloof, of dalk meer akkuraat, jou godsdiens, moenie jou van jou man weghou nie, want dit gaan hom net meer rebels maak teenoor God.

In my eie lewe was daar ’n stadium waar ek lekker kwaad was vir die Here en ek het niks meer belang gestel nie. Ek sal nooit vergeet wat my vrou vir my gesê het nadat ek weer geweier het om kerk toe te gaan nie. “Timothy, ek is lief vir jou maak nie saak wat nie, maar ek wil hê jy moet weet dat ek sal aanhou vir jou bid.” Daardie sin het my tussen die oë getref, maar weet jy wat het my hart laat verander? Die feit dat my vrou nooit weer daarna vir my gevra het oor my saligheid en verhouding met die Here nie. Sy het my bedien en in haar stilte tyd vir my gebid.

Stormie Omartian, wie die boek, “When wives pray for their husbands” geskryf het, getuig van ‘n man wat na God toe gedraai het na jare se getroue gebed. In hulle geval, was dit ook geduld en liefdevolle aanvaarding wat haar man se harde hart verander het.

iii. Moet ek nie dalk manipuleer deur omgang te weier nie, dan sal hy seker aandag gee aan my Geestelike behoeftes?

As jy nou regtig ’n gemors van alles wil maak, dan moet jy seks weier om jou man te manipuleer. Hierdie taktiek is gewaarborg om nie net jou huwelik weg te gooi nie, maar jou man verder van God te dryf.

iv. Wat sou jy aanbeveel in so ‘n familie opset? En hoe affekteer dit ons verhouding met mekaar en sal dit “vlieg” met God, m.a.w. gaan ek as gelowige nou “gestraf” word vir my verkeerde keuse in ‘n huweliksmaat?

Ek dink nie God gaan eendag as jy in die hemel kom vra hoekom het jy nie meer vir jou man van My vertel nie. Ek dink eerder as Hy vir jou wel iets gaan vra sal dit wees hoekom het jy nie meer jou man gedien nie?
Romeine 2:4 sê “God is ryk in goedheid, verdraagsaamheid en geduld! Sê dit vir jou niks nie? Besef jy nie dat God jou deur sy goedheid tot bekering wil lei nie?” Daar is niemand meer instrumenteel in ’n ongelowige rebel van ’n man se lewe as sy vrou nie. Wanneer die vrou haar man se saligheid oorgee aan die Here en net fokus om die beste vrou te wees en haar huwelik te geniet saam die man wat sy gekies het om mee te trou, sal ons baie meer mans in die Koninkryk in verwelkom.