
MY MAN SE WERK STEEL ONS HUWELIK“Kan julle asseblief ‘n artikel plaas oor hoe ‘n vrou dit moet hanteer as haar man ‘n beroep beklee wat hom gereeld van die huis af wegneem en veroorsaak dat hy gevolglik sy gesin tweede moet plaas ter wille van sy werk. Vriende en familie sê bloot dat ek as vrou dit moet verstaan, my man moet respekteer en aan sy behoeftes moet voorsien. Dat my behoeftes buigbaar moet wees, maar hoe bereik ons daardie punt waar daar aan beide van ons se behoeftes voldoen word?” – Nadia
Timothy Kieswetter, ‘n Bybel- en seksualiteitskenner, antwoord:
Ek dink dat jou behoeftes net so belangrik soos jou man s’n is. Dit gebeur té gereeld dat ‘n man sý ding doen en ‘n vrou hare. Dit los een of albei van julle gefrustreerd en uitgeput. Dit hoef egter nie so te wees nie, Nadia. Ek glo ook nie dit is hoe God dit bedoel het om te wees nie. Hy het Eva gebring om vir Adam te help. Nie om sy slaaf te wees of agter hom skoon te maak nie, maar om hom te help met dieselfde taak wat God vir Adam gegee het. Ek glo ‘n bietjie vooruitbeplanning kan wondere vir enige huwelik verrig. Dit is maklik om een dag op ‘n keer te leef en dit hou sekere voordele in, maar jy word maklik vasgevang in jou huidige situasie. Ek vra altyd vir paartjies om my te vertel van hul vyf-, tien- en 25-jaar doelwitte en planne. Die meeste van die tyd kan hulle nie vir my ‘n antwoord gee nie. Kom ons veronderstel dat jy en jou man ‘n duidelike doelwit en plan het oor waar julle wil bly, wanneer julle kinders wil kry en so meer . . . dan sal dit vir julle makliker wees om tydelike opofferings te maak. Maar as die toekoms wat julle vir julself beplan, nie van hom vereis om ‘n werk te aanvaar wat die meeste geld huis toe bring nie, sal dit makliker wees vir hom om ‘n ander werk te soek wat beter by jul plan inskakel. Wanneer julle weet waarnatoe julle mik, raak die dag-tot-dag se vrag makliker om te dra.
Stuur jou vra na timothy@gesondeseks.co.za
Raak deel van ons Facebook groep http://www.facebook.com/gesondeseks