Gesonde Seks Huiswerk #13 – Libido Booster


Gesonde Seks Huiswerk #13
Libido Booster

Nie alles van Gesonde Seks is prakties nie maar behels ook ’n groot deel van teorie. En met vandag se Gesonde Seks Huiswerk gaan ons ’n bietjie meer op die teorie van Libido Boost fokus. Libido is ’n term wat verwys na jou seksuele dryf. Dit verskil van persoon tot persoon en kan wissel van heeldag lus tot altyd geblus. Dit is wanneer man en vrou mekaar op die twee uiterste van hierdie libido-spektrum vind dat daar gewoonlik rusie in die slaapkamer ontwikkel.

Die doel met vandag se Gesonde Seks huiswerk is om nader aan mekaar te beweeg en saam te speel eerder as teenoor mekaar te staan en baklei. Kom ons veronderstel dat dit die vrou is wat nooit lus is vir seks nie, (ek belowe jou daar is baie mans wat ook aan hierdie kant van die libido-spektrum hulleself bevind.) en die man altyd lus het, gaan een van twee dinge gebeur. Een gaan gebruik voel en die ander gaan verwerp voel.

So hier is wat jy moet doen om mekaar in die middel te ontmoet.

Stap 1: Besef dat jy en jou maat is albei seksueel al voel dit nie vir jou so nie.
Stap 2: Besef dat Gesonde Seks speel ’n belangrike rol in enige Gesonde Huwelik.
Stap 3: Bepaal waar op die libido-spektrum jy is.
Stap 4: Bepaal waar op die libido-spektrum jou maat is.
Stap 5: Om die aantal Gesonde Seks wat uniek aan julle verhouding is te bepaal sal die getal in die middel van julle posisies op die libido-spektrum wees.

Bv. Vrou sal 1 keer per week seks wil hê, waar die man dit 7 keer ’n week sal wil kry. So om mee te begin probeer om mekaar in die middel te vind en strewe na so 3.5 keer per week. (Die 0.5 is daar vir die keer wat jy of jou maat net genoeg krag het om te begin, maar nie klaar te maak nie.)

P.S Natuurlik is daar baie faktore wat ’n invloed op jou libido kan hê en dit moet nie geïgnoreer word nie, maar hierdie Gesonde Seks Huiswerk is ’n eenvoudige en maklike manier om oor Gesonde Seks te begin gesels en na te strewe.

God seën en Gesonde Seks
Timothy Kieswetter – Bybel en Seksualiteit kenner

Gesonde Seks Huiswerk #12 – Voet seks



Gesonde Seks huiswerk #12
Voet seks

Voete is die mees algemeenste fetish wat jy kry. ’n Fetish is wanneer ’n objek of nie-seksuele liggaamsdeel die oorsaak is van jou seksuele opwekking. Baie seksuoloë probeer ontslae raak van die negatiewe stigma wat saam met ’n fetish gaan en hier by Gesonde Seks glo ek dat die hele liggaam ’n bron van seksuele plesier kan wees.
So vandag gaan ons ’n bietjie van die seksuele krag wat in voete gestoor is gebruik maak. Ons voete het meer as 7200 senuweepunte wat tot elke area van ons liggaam strek. Die belangrikheid hiervan was so vêr terug soos 2330 B.C ontdek. En vandag se huiswerk is om voet seks meer deel van julle seks repertoire te maak.

Voetjie-Voetjie
Dit is waar alles begin het. Dink terug aan daardie heel eerste ‘per ongelukkig’ voet kontak onder die tafel in die restaurant. Julle is nog skaam vir mekaar en weet nie lekker hoe die ander persoon oor jou voel nie, so jy gee net so ligte skoppie. As dit goed gaan, kry jy ’n skoppie terug. As dit sleg gaan kan jy dit altyd blameer op die klein tafel of die kram in jou been.
Daar is so baie boodskappe wat deur kom wanneer julle voetjie-voetjie speel dat dit ’n absolute moet is om seker te maak julle bou en onderhou die Gesonde Seks atmosfeer tussen julle. So volgende keer wanneer julle gaan uit eet, langs mekaar sit en TV kyk of saam ’n fliek gaan kyk of net in die bed lê, moenie vergeet om voetjie-voetjie te speel nie.

Voet massering
Voet massering is ’n baie belangrike manier om vir jou maat die boodskap te stuur dat jy raaksien alles wat jy vir my doen. Ek sien die stres wat jy onder is. Ek herken dat jy baie hard werk om ’n goeie maat te wees. So kom sit hier en ontspan terwyl ek jou voete was en masseer.
Hierdie boodskap word nie oorgedra deur seks of hulp in die kombuis nie, maar slegs deur om tyd te spandeer met jou maat se voete.

Voet grooming
Baie mense voel baie skaam oor hulle voete en gaan deur baie moeite om dit weg te steek. Spandeer tyd om jou eie voete te versorg. Versorg mekaar se voete. Gaan gereeld vir pedicures. Die eerste stap om soos ’n seksgodin te voel is om jou voete te versorg.

Voet soene
Die meeste van ons is baie kielierig wanneer iemand aan ons voete vat en daarom kan jy net met ’n bietjie ‘fine tuning’ daardie tergende aktiwiteit van kielie omswaai tot ’n baie erotiese aktiwiteit, deur om mekaar se voete te soen en vry. (Dit is wys om eers dit te doen nadat die voete gewas is.)

Voet masturbasie
Nou kom ons by die crème de la crème van voet seks: Voet Masturbasie. Doen dit reg en dit kan een van die mees erotiese en plesier verskaffers wees in jou seksuele arsenaal. Maak gebruik van genoeg smeermiddels om te verhoed dat jy nie mekaar seer skaaf nie. Moenie dadelik met voet masturbasie begin nie, laat toe dat dit oorloop van ’n vorige voet aktiwiteit.

Vrouens: As jy dink jou man hou van ’n blow-job of hand-job wag tot jy vir hom ’n voet-job gee. Die definisie van kinky is om op ’n ander, nie gewone manier jou liefde aan mekaar seksueel te wys en hierdie is 10/10 op die kinky skaal. Laat jou man opsit sodat hy mooi kan sien wat jy aan hom doen. Gaan sit tussen sy bene, leun ’n bietjie agtertoe waar jou hand jou ondersteun. (jy het nie jou hande hier nodig nie). Vryf eers saggies oor sy penis, skrotum en pubiese hare. Begin dan om stadig en versigtig sy voorvel af te trek om die kop te ontbloot. Wanneer jou man wit warm is neem jy sy penis tussen jou twee voete en begin hom so op en af masturbeer. Volg sy cues wat vir hom werk en hy sal jou dank.

Mans: Voet masturbasie vir ’n vrou gaan nie daaroor om te kyk of jy jou toon in haar vagina kan druk nie. As jy haar krap met jou nael dan is dit verby met jou. Eerder fokus op die vulva en nie op die vagina nie. Die vulva is die uiterlike dele van jou vrou se genitalieë. Die labia-majora en minora (groot en klein lippe) en die klitoris. Vryf ook oor haar pubiese hare en saggies werk rondom haar vagina opening. Wag tot sy so lus raak vir jou en jou nooi om haar te besit.

Gesonde Seks Huiswerk #11 – Masseer Seks


Gesonde Seks huiswerk #11
Masseer Seks

Vir baie mans is die woord ‘voorspel’ ’n tipe TV-program en vir vrouens ’n vaagweg droom. Wanneer couples besluit of voel om seks te hê is dit gewoonlik net dit wat gebeur. Hulle trek uit, raak styf, maak ’n bietjie nat met spoeg en pomp tot orgasme. Hierdie is nie Gesonde Seks nie.

Gesonde Seks is nie orgasme gedrewe nie. Gesonde Seks is nie ’n spray-on-tan nie, dit is bak in die son. Bak julle in mekaar se liefde, passie en seksualiteit? Of is dit net iets wat julle aframmel?

Voorspel 101 – Spandeer meer tyd aan die NIE-Seksuele dele voordat jy aan beweeg na die seksuele areas.

Mans: Moenie dadelik jou hand op jou vrou se borste of genetalia plaas nie. Werk jouself daarna toe.

Vrouens: Leer jou man wat vir jou lekker is en vir jou werk, praat met hom, stuur hom, plaas sy hand waar jy dit wil hê en dan maak bemoedigende geluidjies om hom daar te hou. (Moenie te opgewonde raak met die geluide nie, want dan gaan hy dit sien as ’n teken om aan te begeer.)
So vandag se huiswerk is juis om maksimum tyd te spandeer om in mekaar se seksualiteit te bak sonder om dadelik na seks toe te draai.

Masseer Seks.
Ons weet alreeds dat jou brein is die mees kragtigste en belangrikste seks orgaan, maar wat is jou grootste seks orgaan? Jou vel.

Gaan koop masseer olie of selfs baba olie en bederf mekaar tot ’n ordentlike ‘full-body’.
Neem jou tyd om tot die seksuele areas te kom en wanneer jy daar is neem jou tyd totdat jou maat kom.

Gesonde Seks huiswerk #10 – Pen en Papier Seks


Gesonde Seks huiswerk #10
Pen en Papier seks

Die pen is kragtiger as die swaard. En in seksualiteit is dit nie veel anderste nie. Die van julle wat nou al lank genoeg my skryf volg sal verstaan dat die woord seks nie net verwys na die fisiese daad nie, maar eerder verwys na ’n meer holistiese seksuele identiteit.

In vorige weke se huiswerk het ons gefokus hoe om die fisiese daad van seks op te skut en vars te hou, maar vandag wil ek wyer kyk en sien hoe ons die atmosfeer waarin seks floreer, kan opwakker.

Dit verstom my hoe paartjies met mekaar kommunikeer in die publiek en dan verwag hulle om ewe skielik te spark in die privaatheid van hulle sekslewe. Vrouens hou daarvan om die sin te gebruik “Seks begin in die kombuis.” Met ander woorde, hoe meer die man betrokke is buite die slaapkamer hoe meer betrokke sal die vrou binne die slaapkamer wees.

Maar dieselfde is waar vir die mans. Julle vrouens dink dat mans altyd lus het vir seks en emosies raak ons nie, maar dit kan nie verder van die waarheid wees nie. Hoeveel mans sit in my spreekkamer en huil omdat hulle voel dat hulle vrouens hulle in die publiek kastreer.

So hier is die Gesonde Seks les vandag:

Mans: Los ’n bietjie die chauvinistiese grappies en begin eerder jou vrou die hof maak voor ander mense. Jou vrou sal soos die koningin van jou hart voel.

Vrouens: Sit ’n bietjie ’n wag voor jou mond en moenie net kla oor jou man in die publiek nie. Bou hom op en spog oor hom. Hy sal soos die koning van jou lewe voel.

Net so belangrik soos wat publieke komplemente vir jou maat is, is die privaat liefdes briefies wat julle vir mekaar onder die kussings los. Pen en Papier Seks is om julle liefde, waardering en drome aan mekaar te verklaar. Jy kan vir jou maat ’n gedig skryf, ’n kort verhaal, ’n lied of net een sin uit die diepe van jou hart, maar wat ook al jy doen, kom in die gewoonte om dit gereeld te doen.

Hier is so paar sinne vir jou om mee te begin indien jy skrywersblok beleef.
My grootste droom is…
My grootste vrees is…
My grootste geluk is…
My grootste fantasie is…
Jou lyf laat my dink aan…
Jou reuk laat my dink aan…
Wanneer ek na jou kyk…
Wanneer ek aan jou dink…
Wanneer ons intiem is…

Hierdie is al die redes hoekom ek lief is vir jou!

Mans die jagter? of net jags?


Wat om te doen met hierdie oeroue jagdrang wat so elke nou en dan kop uitsteek
Timothy Kieswetter

Verbeel jou jy het in ’n grot gewoon. Jy is die man, die jagter, vroegoggend uit op soek na jou prooi. Jy gebruik al jou instinkte en sintuie om suksesvol te jag. Jy sleep jou vangs terug grot toe en vlek dit oop oor die kole. Jy kyk rond en roep vir vroulief. Sy antwoord saggies vanaf die rooster bo-op die kole: “Mooi, my jagterman. Jy het my weer gevang.”

Wat is hierdie oeroue jagtersinstink van ’n man? Ek wonder of ons dit nie dalk ’n bietjie verkeerd verstaan nie. Ek dink nie ons was ooit veronderstel om die skoner geslag te jag nie. Dit werk dalk vir jou as jy ’n biologiese rede soek om die hele tyd “jags” te wees of as jy daarvan hou dat vroulief ook jou gevangene is. Altwee hierdie geloofsoortuigings sal nie vir jou ’n goeie Goddelike fondasie en kans gee in jou huwelik nie. As ons God se Adam- en Evaplan bestudeer, begin hierdie jagtersinstink van ons heeltemal ’n ander betekenis aanneem. Dit is nie die feit dat ons ’n jagdrang het wat ek bevraagteken nie, maar eerder wát dit is wat ons jag. Adam het nooit vir Eva gejag nie, maar hy moes vír haar jag.

Om vir jou vrou te jag, maak ’n baie groot verskil in hoe ’n man homself sien, asook hoe hy na sy vrou kyk. Die man wat vír sy vrou jag, neem ’n beskermende rol in teenoor die selfbevredigende rol van ’n man wat vroue jag. Vir eersgenoemde gaan dit meer oor sy vrou se gevoelens as wat dit oor sy eie seksuele drange gaan. Hy is ’n man wat grootgeword het en besef het die lewe draai nie om homself nie. Die manier hoe hy na sy vrou kyk, is ook anders as die man wat vroue jag. Vir hom is sy vrou sy gelyke, sy metgesel, in plaas van slegs ’n spogtrofee.

As ons terug na Adam se storie toe gaan, kan ons sien dat hy ’n beter kans gestaan het om in die paradys te bly as hy die slag gejag het in plaas daarvan om met die ding te speel. Die slang het vir Eva versoek, want sy was die kwesbaarste een van die twee. En die beste manier om jou vrou se kwesbaarheid te beskerm, is om vir haar te jag. Al die versoekings in die huwelik, by die huis, werkplek, familie en vriendekring – dit is die man se plig en voorreg om dit alles te jag in sy vrou se naam.

Hierdie is nie ’n verhaal van twee verskillende soorte mans nie, maar van een man. Ons almal is uit dieselfde klip gekap en hierdie “jagsheid” versus “jag vir my vrou” is iets wat elke moderne man nog mee worstel. Die sleutel lê nie daarin om die perfekte vrou te kry nie, maar eerder om die ware jy te ontdek. Hierdie transformasie van selfsugtigheid tot verantwoordelikheid spreek van grootword. Nee, mán word! Dit is elke man se uitdaging. Want jag gaan ons jag. Die vraag is wát vir wié?