Hoe mans ‘n vrou se emosies ervaar

Hoe hy jou emosies ervaar…
Emosies maak mans ongemaklik. Dit is nie regtig hulle skuld nie, want die samelewing het ons geleer dat mans nie mag huil of te veel emosie mag wys nie. Mans is geleer om tuff te wees, om hulle gevoelens te onderdruk en konstant die oog op die groter prentjie te hou. Ek dink God het bedoel vir mans om die eindbestemming in oog te hou, deur om logies te redeneer en bedoel dat die vrou die rit genotvol moet maak, deur om met haar hart te voel. Die gevaar is wanneer die man sy emosies ignoreer en die vrou haar emosies te veel glo.

Sê een ding en bedoel ‘n ander
Ek kan onthou toe ek en my vrou pas getroud was, was daar verskeie kere wanneer ek haar emosies verkeerd verstaan het. Die een keer net nadat ons wonderlike seks gehad het, het sy ewe skielik net in trane uitgebars. Ek skrik so groot en wonder wat het ek verkeerd gedoen, het ek haar seer gemaak, is sy spyt dat sy my getrou het, verlang sy na haar ouers? Só het ek in my kop probeer sin maak van haar onlogiese emosionele uitbarsting. En hoe meer ek dit probeer verstaan het, hoe meer het ek dit probeer fix, wat haar net meer emosioneel gemaak het, wat my net meer begin geïrriteer het. Só het ‘n wonderlike intieme aand, in ‘n groot misverstand baklei verander. Hierdie misinterpretasie van emosies is iets wat elke nuwe paartjie moet deur werk. En dit is waar die werk in die huwelik inkom. Jy gaan moet werk om mekaar intiem te leer ken. Genesis 2:25 sê dit so mooi “man en sy vrou het naak voor mekaar gestaan en het geen skaamte geken nie”. Ek en my vrou het gewerk aan die emosionele ‘grand canyon’ tussen ons deur om met mekaar te kommunikeer hoe elkeen voel, verstaan, aflei en wat ons eintlik bedoel. Met ander woorde, ons het daaraan gewerk om mekaar se beste vriende te word.

Wees beste maatjies
Ed Wheat het in sy boek “Love life” geskryf dat hy deur al die jare van huweliksberading agtergekom het dat daar ‘‘n tekort van vriendskap liefde tussen getroudes is’. Die gevolg van ‘n gebrek aan vriendskap liefde tussen man en vrou is dat die man sy vrou se emosies nie verstaan of respekteer nie. Hierdie konsep is duidelik sigbaar deur die loop van ‘n lang verhouding. Aan die begin van die verhouding, pla niks van die vrou, nie eers haar emosies vir die man nie. Alles wat sy doen, is hy gaande oor. Hoekom? Want daar is ‘n sekere vlak van vriendskap liefde wat tussen hulle bestaan. Hierdie vriendskap liefde bestaan want die man is geduldig en luister na die vrou en stel regtig belang in wie sy is. Na ‘n paar jaar se getroude lewe spandeer ons nie meer tyd om geduldig te luister na mekaar nie. Ons verloor daardie vriendskap konneksie wat ons aan die begin gehad het, wat al die rondbons emosies oulik gemaak het. Daar is nou twee opsies vir jou. Of kry elke jaar vir jou ‘n nuwe man sodat hy jou van vooraf kan leer ken of maak seker dat jy en jou man beste maatjies bly.

Jou man wil jou verstaan
Die rede hoekom meeste mans emosies sinneloos en irriterend vind, is omdat hulle sukkel om dit te verstaan. ‘n Man met sy logiese brein wil, nee, moet alles verstaan. As jy nie vir jou man verduidelik hoekom jy voel soos jy voel nie, sal hy dit nooit uit sy eie verstaan nie. Weereens is dit nie sy skuld nie, want dit is jou gevoelens en jou emosies en baie kere verstaan jy self nie eers hoekom jy so voel nie! Onthou net dat elke keer as hy nie jou kan verstaan nie, is daar ‘n stem in sy kop wat sê ‘jy is nie ‘n goeie man vir jou vrou nie’. Na die eerste paar misverstande wat in ‘n bakleiery verander, sal hy summier handdoek ingooi om jou te probeer verstaan. Geen man wil konstant soos ‘n mislukking voel nie en daarom trek hy net emosioneel terug en aanvaar jou en jou ‘random’ emosies net soos jy is. Hy maak sin daarvan deur om jou emosionele uitbarstings aan jou hormone of PMS toe te skryf. Hierdie is vir hom makliker om te verstaan as die alternatief wat in sy kop ronddwaal “Jy verstaan nie jou vrou nie. Jy is nie goed genoeg vir haar nie. Jy kan haar nie beskerm nie. Jy is ‘n mislukking in jou manwees.” En dit is hierdie onsekerheid wat mans vrees. Die gevoel dat ons nie vir ons vrouens kan sorg of help nie, is wat ons ongemaklik maak, nie die emosies self nie.

Help hom om sy eie emosies te voel
Voordat jou man gemaklik sal raak met jou emosies, moet hy eers gemaklik raak met sy eie. Verseker het hy ook gevoelens! Wat jy kan doen om hom te help om sy gevoelens beter te kommunikeer is om eerstens jou eie emosies ‘n bietjie terug te hom. Vra hom hoe hy voel. Gee hom kans om eerste sy emosies daar buite te sit. Mans voel baiemaal oorweldig deur die vrou se emosies. Wat in baie verhoudings gebeur is dat die vrou eerste haar emosies wys en gewoonlik het sy so baie en sterk emosies oor ‘n saak dat die man geïntimideerd voel, want sy emosies is maar min en flou as hy dit nou moet vergelyk. Dit is soos wat ons sien op Animal Planet. Die bul met die grootste horings is baas en niemand sal waag om hom aan te vat nie. En as dit kom by verhoudings dan is die vrou se emosies die duidelikste sigbaar en die mees ontwikkeldste. Geen man in sy regte verstand sal sy vrou by daardie horings aangryp nie.

Mr. Fixit
Mans wil graag alles regmaak. Dalk nie alles rondom die huis regmaak nie, maar as hy sy vrou emosioneel sien dan outomaties dink hy daar is iets fout en probeer dit fix. Party keer voel dit vir jou asof hy dit wil probeer fix met ‘n bloudraad en ‘n knyptang! Jy moet verstaan dat hy nie probeer om jou emosionele probleem te fix vir jou om net stil te bly sodat hy kan aangaan om sy sport op TV te kyk nie. Hy wil dit fix, want hy is lief vir jou en wil jou nie hartseer sien nie. Hoe meer hy begin gemaklik raak met sy eie emosies hoe minder sal hy dink dat om emosioneel te wees, beteken dat daar iets fout is.

Die goeie, slegte en lelike emosie
Dit is nie die emosie self wat goed of sleg is nie, maar hoe dit in die verhouding ontvang word.

Die goeie emosies is wat ware intimiteit bou in ‘n verhouding. As intimiteit tussen ‘n paartjie gemeet kon word sou ons dit kon voorgestel met ‘n leë emmer tussen mekaar. Alles wat binne-in die emmer gesit word, dra by tot die vlak van intimiteit. Hoe voller die emmer hoe meer intiem raak die paartjie. Intimiteit is die vlak van eenwording wat alreeds plaas gevind het tussen mekaar. Die kuns is om ‘n 50/50 toedeling te hê in die intimiteit van ‘n verhouding. Hiermee bedoel ek nie dat die man ewe veel emosioneel moet wees as die vrou nie, want dit is tog bitter moeilik. Maar as al twee gemaklik is om hulle emosies met mekaar te deel, dan is die intimiteit in die verhouding sterk. Wat ongelukkig in baie verhouding die standaard is, is dat dit die vrou is wat al haar emosies in die intimiteit emmer sit en die man vir redes alreeds in die artikel genoem, wegskram en so min as moontlik van sy emosies wil insit.

Slegte emosies is, eenvoudig emosies wat nie verstaan word nie. Nie deur jou man nie en soms ook nie deur jouself nie. Emosies is jou binneste wat probeer om aan jou en mense rondom jou te kommunikeer hoe jy werklik voel. Slegte emosies is slegte kommunikasie. As ‘n man nie sy vrou se emosies verstaan of respekteer nie, is dit een van die eerste tekens van slegte kommunikasie. Sodra die kommunikasie tussen man en vrou beter raak, sal die man haar emosies beter kan verstaan en sodoende haar meer begin respekteer.

Lelike emosies is wanneer ons, ons emosies gebruik om mekaar seer te maak. En een van die algemeenste manier hoe emosies lelik raak is deur manipulasie. Gary Chapman praat in sy boek “The five love languages” van ‘n emosionele liefdestenk en wanneer dit leeg raak dan begin ons emosies teenoor mekaar, lelik raak. Hy vergelyk ‘n leë emosionele liefdestenk met ‘n kar wat sonder olie ry en glo dat hierdie konstante emosionele misverstande ‘n huwelik se ondergang kan wees. Bitter min mense is bewus dat hulle hul emosies gebruik om die mense rondom hulle te manipuleer. Die rede is omdat hulle nie bedoel om enige iemand seer te maak nie. Dit is slegs ‘n desperate poging van jou binneste om hierdie emosionele liefdestenk weer vol te kry. Hierdie tegniek om ons emosies te gebruik is egter ‘n baie onproduktiewe manier om vir jou man ‘n skimp te gee dat jou emosionele liefdestenk leeg is.

Dit is net die ‘trigger’
As jy wonder oor die storie van ek en my vrou, waar sy ewe skielik in trane uitgebars het en ek nie ‘n cooking clue gehad het wat aangaan of wat om te doen nie, het ek goeie nuus. Na ‘n lang gesprek waar ons as beste maatjies met mekaar gekommunikeer het, het ek begin verstaan. Sy het in trane uitgebars, want sy het so gelukkig en tevrede gevoel met haar lewe en so het ek besef dat ‘n vrou se emosies is nie altyd gekoppel aan wat vir haar gesê word of wat gebeur nie. ‘n Vrou se emosies het soms net ‘n ‘trigger’ nodig om die damwal te breek. En wanneer die emosionele damwal breek, maak net seker jou man verstaan dat die vloedwater van emosies wat nou oor hom spoel, nie alles sy skuld is nie.

Ten slotte
As jy verantwoordelik sal wees met jou emosies en dit nie gebruik om jou man te manipuleer of hom uit sy eie gevoelens te boelie nie, sal jy so vir hom ruimte skep om meer emosioneel in die verhouding te belê. En wanneer julle al twee julle emosies in die verhouding belê, beweeg julle verhouding nader aan wat Genesis 2:25 sê “man en vrou het kaal voor mekaar gestaan en geen skaamte geken nie”. Om emosioneel kaal voor mekaar te staan is om 100% eerlik en kwesbaar jouself te wees in die verhouding.

2 thoughts on “Hoe mans ‘n vrou se emosies ervaar

  1. Pingback: 2010 in review | Timothy Kieswetter's Blog oor Seksualiteit

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s