Hoekom het U my so warm gemaak en my vrou so koud?

Here ek glo dat U alles goed gemaak het en dus alles goed deur dink het, maar Here as ek na my sekslewe kyk, kan ek soms nie help as om te twyfel nie.

 

Twyfel in U perfekte ontwerp? Dit kan ek tog nie vir lank betwyfel. Twyfel in my eie opregte gedagtes? Dit moet seker die wortel probleem wees. Twyfel in my vrou se liefde vir my? Nee, daarvan is ek verseker.

Here, hoekom het U die man gestraf met sy hoë seksdrang? Ek weet op die huwelikskamp het hulle geleer seks is ‘n goddelike geskenk, maar sekerlik net as dit aan jou vrou ook geskenk is. Wat maak ek met dit op my eie? Hoe is dit ‘n geskenk as ek voel my vrou reageer slegs uit plig?

Ek wil ook begeer word. Ek wil ook geliefd wees. Ek wil ook een wees met my vrou. Ek wil ook hê sy moet my wil hê. Ek is mos nie dom nie, al hou ek myself so soms, ek weet wanneer sy haar huweliksplig eer. Hoe is dít veronderstel om ‘n goddelike geskenk te wees? Moenie my verkeerd verstaan nie, Heer. Dit is nie iets wat ek bereid is om te weier op beginsel nie. U het my tog so geskape? Die drang tot seks is menslik. Manlik?

Hierdie is mos ‘n resep vir moeilikheid. Die man altyd lus en die vrou onder huweliksplig. Maar Here, daar is so baie vrouens daar buite wat ook lus lyk. Ek weet dit is net ‘n lokval. Dit moet wees, of het ek met my huwelik in die slaggat getrap? Dalk is seks net ‘n wapen van die vrou om ‘n man te vang en gebruik vir haar eie moederlike instink. Ek weier om te glo seks is net vir voortplanting. Waarom het U dit dan so lekker gemaak dan? Ek weet as my vrou net eers die lekker van seks smaak, sal sy dit net so begeer soos ek. Maar daar bly min van my Casanova ego oor.

Ek lees in Hooglied hoe sy beminde skryf hoe sy na hom verlang. Hoe sy hom nooi om van haar keurig tuin te kom eet. Hoe haar man se soene vir haar beter is as enige soet wyn. Ek kan nie U perfekte goeie plan twyfel nie. Ek wil glo U het seks vir die mens gegee as ‘n geskenk. Maar ek wil dit in my huwelik ook hê. Ek wil hê dat my vrou dit ook moet kry.

Dalk lê die probleem by my? Dalk voel sy nie genoeg geliefd nie? Hoe gee ek haar meer emosionele ondersteuning as ekself emosioneel voel dat sy my weier? Kan ek ooit sê dat sy my seks weier as sy nooit die woord, nee, geuiter het nie? Sekerlik spreek aksies meer as woorde? Sy inisieer nie, sy gryp my nooit, sy lê net daar vir haar huweliksplig.

Here, ek besef dat ons in ‘n afwaartse spiraal vas gevang is. Ek kan selfs voel hoe my eie seks drang, al hoewel dit nog daar is, al hoe minder begeerbaar word. Hoe is dit moontlik om seks te wil hê sonder om te voel dat jy dit wil hê?  Vir my is dit heel eenvoudig: Huweliksplig-seks maak my onbegeerbaar voel.

Hoe moet sy voel?

Wat is die gevoel wat haar keer om in te gee tot hierdie geskenk van God?

 

© Gesonde Seks, Timothy Kieswetter 2012

9 thoughts on “Hoekom het U my so warm gemaak en my vrou so koud?

  1. Here, as vrou is ek dankbaar dat U ons vrouens ook geseen het met ons seksualiteit. Here ek weet dat U plan vir ons (man en vrou) bymekaar pas ten spyte van groot verskille perfek was en is. Ek weet ook Here dat U dit nie verniet spesiaal gemaak het nie, dat U verseker wil he dat ons die mooi daarvan moet geniet en nie “gestraf” moet voel vir ‘n wanbalans in ons huwelike nie. Daarom Here vra ek vandag en elke dag dat U my as vrou se gesindheid teenoor intimiteit sal positief en gemaklik en gewillig hou. Ek bid dat U ons altwee sal laat moeite doen met mekaar omdat ons dankbaar is vir ons geskenk. En dan bid ek ook vir my vriendin se gesindheid teenoor Intimiteit Here, maak haar oe oop vir haar man se behoeftes, laat haar raaksien hoe hy haar werklike deelname begeer, want ek weet Here sy is vir hom oneindig lief.

  2. Behalwe vir die feit dat ek die “nee” woord al te veel keer gehoor het, beskryf hierdie artikel my situasie perfek.
    Wat ek wel mis, is die verduideliking en raad wat gewoonlik ingesluit is….???
    Het ek die artikel verkeerd gelees?

  3. Geen vrou moet voel dat dit slegs onder plig moet wees nie, Sy moet net so warm wees soos haar man anders is dit n klug…………………

  4. Dit beskryf ook my situasie, maar wat kan ‘n man doen om dit te verander. Ek help my vrou met huis taakies ens ens, maar kry die NEE te gereeld. Dis asof ek nie genoeg van haar kan kry nie, maar sy is sooooo koud teenoor my?? Moet ek haar eers verneuk voor sy verander of wat??

  5. Ek voel regtig vir hierdie man….net soos vir my eie. Ek is ‘n vrou…en was gemolessteer as kind. So ek sukkel met seksuele ‘drange’. Ek moet ook baie vir my arme man ‘nee’ se dood eenvoudig omdat daar nie ‘n drang na seks is nie. Ek is bitter lief vir my man en ja….as ons wel intiem is is dit pragtig en spesiaal. So ek voel so skuldig as ek my man moet wegwys want ek voel soos die mislukking….dat ek nie so ‘n drang het soos hy nie.

  6. Vind maar net uit wat jou vrou tickle of gaan sien saam ‘n seksterapeut. As sy vir jou lief is dan sal sy dit vir jou doen. Daar is baie maniere gaan lees dit op of doen maar net huiswerk dis maar al. Daar is nie so-iets soos ‘n koue vrou nie. Die Here het nie sulke dames geskape nie???????

  7. Mens raak ongelooflik eensaam in so ‘n huwelik. In my geval is die rolle omgeruil, my man is die koue een wat se libido baie laag is. Ek is die warm een, ek se nooit nee nie. En ja, dit breek mens. Ek voel gereeld soos ‘n dier in ‘n hok. Vasgevang in ‘n huweliksbelofte, maar binne skree ek vir vryheid…wens ek ek kon tyd terugdraai en eerder ‘n man kry wat warm is soos ek…

  8. Ek het reeds ‘n affair gehad omdat ek nie geliefd gevoel het nie. Dit was verkeerd en ek het dit beeindig en die Here en my vrou gevra om my te vergewe. My vrou se nou sy sal nou altyd tweede beste voel, maar dis ‘n leuen. Eks net lief vir haar en dit breek my hart. Mans, moet nooit ingee in die tentakels van ‘n verhouding buite jul huwelik nie. Dit is nie die moeite werd nie. Konsentreer op jul huwelike, wees romanties, bemin jul vrouens en koester hulle altyd en wys hul hoe lief jul hul het. Ek dank die Here dat ek hom kan vertrou om my huwelik volkome te herstel en te restoureer sodat my vrou weer sal weet sy kom eerste in my lewe en sal altyd.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

w

Connecting to %s