Moses trou met ‘n swart vrou en sy familie is boos!

Wat adam my van  Seks geleer hetMOSES        

Getroud met iemand van ’n ander kleur

“Mirjam en Aäron het vir Moses aangespreek oor die Kussitiese vrou wat hy gevat het, want hy het met ʼn Kussitiese vrou getrou.” – Numeri  12:1

Meer oor sy storie

Moses het met Sippora, ʼn vrou van ʼn ander ras, getrou. Ons Suid-Afrikaners weet veral watse herrie so iets sal laat ontstaan! Moses was ʼn Hebreër gewees,[1] maar hy het as ʼn Egiptenaar groot geword.[2] Toe die Egiptenare die Hebreërs, of altans die Israeliete, as slawe geneem het, het Moses effens van ʼn identiteitskrisis ontwikkel. Hy was nie seker wie hy was of waar hy hoort nie.

Terwyl hy nog in Egipte gebly het, het hy gesien hoe ʼn Egiptenaar een van die Israeliete aanrand. Moses het dadelik ingeklim om te help en het die Egiptenaar doodgeslaan. Moses het besef dat hy nie meer welkom in Egipte is nie, en het na die land van die Midianiete gevlug waar hy vir Sippora ontmoet en met haar getrou het.[3] God het later jare vir Moses geroep om terug te keer Egipte toe om die Israeliete uit slawerny te bevry. Ons almal ken die verhaal van die tien plae, die uittog uit Egipte en die trek deur die Rooi See.

Wat wel minder bekend is, is die uitval wat Moses met sy broer en suster gehad het in Numeri 12 omdat hy met ʼn volksvreemde vrou getrou het. Sommige teoloë vermoed dat hierdie Kussitiese vrou nie Sippora was nie, maar sy tweede vrou. Richard Davidson skryf in sy boek The flame of Yahweh: Sexuality in the Old Testament, dat Sippora wel die Kussitiese vrou was.[4] Orals in die Bybel word Sippora op haar naam genoem behalwe in Numeri 12 waar sy as die Etiopiese vrou beskryf word (KJV).

God was nie tevrede met Mirjam se uitbarsting oor Moses se vrou se velkleur nie en het haar met melaatsheid gestraf wat haar vel so wit soos sneeu laat word het. Dis nogal ironies as jy dink haar straf vir rassistiese opmerkings is ʼn afskuwelike velsiekte.[5]

Les vir die moderne man

Dit was vir Mirjam ʼn groot onsteltenis dat Moses met iemand van ʼn ander ras getrou het. God is geen aannemer van persoon of velkleur nie,[6] maar Mirjam het duidelik haar vooroordele gehad. God het nie ʼn probleem gehad met die feit dat Moses met ʼn swart vrou getroud was nie.

Van kleins af moes Moses konstant evalueer wie en wat hy was. Was hy ʼn Israeliet of was hy ʼn Egiptenaar? Waar pas hy in? Maar Moses het deur God se genade sy identiteit in God gevind eerder as in sy velkleur of sy kultuur. Dit het nie vir hom saak gemaak of hy nou as Hebreër, Egiptenaar of Midianiet geklassifiseer is nie.

Mirjam het egter vir Sippora as ʼn bedreiging gesien as gevolg van die invloed wat sy op Moses gehad het. Sy was dalk jaloers omdat Sippora die een was na wie Moses gegaan het vir raad. Sy het dalk gevoel dat sy eintlik dit verdien om die grootste inspraak in haar broer se lewe te hê. Sy het hom grootgemaak en hom alles geleer wat hy geweet het. As gevolg van Mirjam se swak selfbeeld en inhibisies, het sy rede gesoek om vir Sippora sleg te sê. En wat beter manier was dit nie om Sippora sleg te maak deur afbrekend na haar kultuur en velkleur te verwys nie?

God sien alle mense dieselfde, maak nie saak watter kleur jou vel is of wat jou kultuur is nie. Ek hou so baie van die verhaal in Markus 1:40 waar Jesus die melaatse man gesond gemaak het. Jesus het Sy hand na die melaatse man uitgesteek en hom aangeraak. Dit was absoluut verbode gewees om eers naby aan ʼn melaatse te kom, wat nog te sê van aan hom raak! Maar Jesus kyk nie vas in die uiterlike nie, Hy gee nie om hoe jy lyk, watter ras jy is of selfs watse siekte jy het nie. God stel net belang in hoe jou hart lyk! Moses was presies dieselfde, dit het nie vir hom gegaan oor watse kleur Sippora was nie; hy het haar hart raakgesien en halsoorkop op haar verlief geraak.

Man tot Man

Sien en behandel jy mense van ander rasse asof hulle melaats is?

Wat sê die wetenskaplikes

Interrassiële-verhoudings is beslis aan die toeneem in Suid-Afrika na die einde van apartheid. Maar baie mense beskou dit steeds as ʼn aversie en party dink dat dit selfs ʼn sonde is wat God haat. Interrassiële verhoudinge dra dalk nie jou goedkeuring weg nie, maar dit beteken nie dat God dit as sonde beskou nie.

Navorsing het getoon dat die interrassiële-huwelike ʼn laer skei-syfer het as huwelike tussen mense van dieselfde ras.[7] Voordat ʼn wit-en-swart paartjie met mekaar trou, moet hulle baie seker van hul liefde vir mekaar wees. Met al die sosiale en kulturele uitdagings wat op hulle wag, moet hulle liefde vir mekaar baie sterker wees as ʼn huwelik waar die paartjie van dieselfde ras is.

Ter opsomming

  •  God straf Miriam se rassistiese gedrag met melaatsheid – ’n vel siekte.
  •  Wetenskaplike navorsing bewys dat interrassiële -huwelike ’n laer skei-syfers het as dieselfde-ras-huwelike.
Indien is ‘n uittreksel van my boek “Wat Adam my van Seks geleer het” wat jy kan koop vanaf http://www.gesondeseks.co.za of by enige Gospel Direct winkel


[1] Eksodus 2:2

[2] Eksodus 2:10

[3] Eksodus 2:21

[4] Richard M. Davidson’s, The Flame of Yahweh: Sexuality in the Old Testament, Bl.189-191

[5] Numeri 12:10

[6] Romeine 2:11

[7] Navorsing deur Thomas P. Monahan, gepubliseer deur die Universiteit van Noord-Carolina drukkery, het in die staat Iowa gevind dat interrassiële-huwelike, waar ’n swart man met ’n wit vrou getroud is, ’n laer skei-syfer het as homogene-huwelike.

One thought on “Moses trou met ‘n swart vrou en sy familie is boos!

  1. Goeie môre.

    Ek stem saam, ek glo nie dat God net n God is vir een ras nie, God, is n God van mense en velkleur speel nie n rol nie.

    Ek wil ook dink dit is moeiliker as mens in n huwelik/verhouding is met n persoon van n ander ras. Dinge is seker moeiliker agv die land se geskiedenis en hoe mens se ouers jou grootgemaak het ens. Dit is elke persoon se voorkeur, en hul sal hul besluite maak soos hul glo wat reg is, en dinge besluit wat hulle gaan gelukkig maak.

    Mens sal verseker besluite maak wat persone om jou gaan ongelukkig maak, maar ek dink mens moet die vrymoedigheid hê om wel jou vriende en familie te raadpleeg, en dan ook hul in te lig oor die keuse wat jy gaan maak as jy in n verhouding wil ingaan met iemand wat nie selfde ras as jy is nie.

    Ek is seker daarvan die sal nie almal se goedkeuring wegdra nie, maar dit bly jou persoonlike keuse, en jou geluk is ook baie belangrik.

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s