Jy mag maar NEE sê.

No more

Geskryf deur Janet Kieswetter

Prediker 3: 1 “Alles het sy bepaalde uur en vir elke saak onder die hemel is daar ‘n tyd: … Vers 5 “’n tyd om te omhels en ‘n tyd om ver te wees van omhelsing.”

Ek was verbaas om na ‘n onlangse peiling op Facebook waar ek gevra het, “Wie het al seks geweier om hulle eggenoot te straf?” te besef dat baie vrouens nog nooit hulle mans geweier het vir enige rede nie! Ek wil graag hierdie mite aanspreek dat ‘n vrou altyd gewillig moet wees en nooit haar man mag weier nie.

Ek het self in die huwelik ingegaan met hierdie groot ambisie om altyd beskikbaar te wees vir my man. Ek het iewers ‘n tannie vir wie ek groot opsigte gehad het, hoor sê dat sy nog nooit haar man geweier het nie en ek het gedink ‘Dis amazing!’ Dit is toe dat ek besluit het wat ‘n goeie vrou dan is: Sy verstaan haar man se begeerte vir seks, sy is ALTYD daar vir hom en met ‘n glimlag ook! WOW! Hoe onselfsugtig! Om altyd sy behoeftes bô jou eie te stel. Al het jy ‘n lang moeilike dag gehad. Al het jy gekook en geskrop en alles weer netjies gemaak. Al wil jy eintlik net omdraai en slaap, steek jy jou eie gevoelens met grasie weg, en lyk en ruik jy lekker vir jou man. Sodat as hy jou begin liefkoos, gaan jy met ope arms na hom toe. Ek haal my hoed af vir vrouens wie dit wel reg kry! As jou gesindheid so positief bly, dan wil ek jou nie ontmoedig om so aan te hou nie. Ek wil eerder met die vrou praat wie baie hard probeer maar sukkel om die mas op te kom. Die vrou wat ingee maar haar man verwyt en ‘n wrok teen hom begin opbou. Ek wil gesels met die dame vir wie seks ‘n plig geword het. Seks behoort nie ‘n diens te wees wat jy vir jou man lewer nie, dit behoort ‘n plesier en vreugde te wees vir albei partye!

Dalk kom dit van ons oer-oumas af, wat na die Bybels se Goddelike vrouens gekyk het en die bloudruk vir goeie vrou-wees daarvan af gekry. Die matriarg Sara wie onderdanig was aan haar man selfs al was haar reinheid in gevaar. Toe Abraham vir sy lewe vrees en vir Sara versoek om te maak asof sy sy suster is, sodat Koning Abimelek hom nie sal dood maak nie, het Sara gehoorsaam soos ‘n skaap wat na die slagpale toe gaan. Sy was bereid om seks te hê met ‘n ander man net om haar man gelukkig te hou! Dis skrikwekkend! Gelukkig het God tot haar redding gekom (Genesis 20: 3) en Koning Abimelek het haar terug gegee vir haar man. Maar is dit die tipe blinde-gehoorsaamheid wat God van ons as vrouens verwag?

Petrus praat van Sara se voorbeeldige gehoorsaamheid aan Abraham in sy eerste boek, hoofstuk 3:6 “soos Sara gehoorsaam was aan Abraham en hom heer genoem het; wie se kinders julle geword het as julle goed doen en geen enkele verskrikking vrees nie.

1Pe 3:7  “Net so moet julle, manne, verstandig met hulle saamlewe en aan die vroulike geslag, as die swakkere, eer bewys, omdat julle ook mede-erfgename van die genade van die lewe is—sodat julle gebede nie verhinder mag word nie.”

 

Hierdie verse gee vir my ‘n paar riglyne vir seks binne ‘n verhouding: 

 

  1. Daar moenie vrees wees nie. Vrees vir seerkry maar ook vrees dat as jy nie vir jou man seks gee nie, gaan hy dit iewers anders gaan soek. Te veel vrouens lewe met die vrees van egbreuk wat oor hulle koppe hang. Dan sodra hulle dink om hulle mans te weier, keer hulle hulself en ‘gee’ seks sodat hulle hul mans gelukkig kan hou. Ek glo nie dis ‘n gesonde seks verhouding nie!

 

  1. Hoe kan ‘n man sy vrou sonder vrees laat seks aanbied? Om haar ‘eer te bewys’. Dit beteken om haar soos ‘n koningin te behandel en te benader. Prakties, beteken dit, om haar toe te laat om seks te weier indien sy so sou besluit. Dis deel van die ironie van die mensdom: Gee vir ‘n persoon die vryheid om weg te bly as hulle wil, en hulle kies om naby te bly.

 

  1. Die Bybel praat hier van die ‘swakkere’ geslag. Hierdie is alleenlik ‘n fisiese swakheid. Dis waar dat ons maandelikse siklus tye van moegheid en swakheid veroorsaak. Ons libido verander ook met die maan. Dus, het ons nodig dat ons mans ons met deernis en begrip hanteer en nie dit persoonlik neem as ons die aand vra om eerder oor te slaan of uit te skuif na ‘n aand waar ons meer lus voel nie. ‘n Onvolwasse man sal voel sy vrou verwerp hom terwyl ‘n sekuur man sal weet dat dit gaan oor sy vrou se gevoelens.

 

  1. ‘Mede-erfgename’ beteken dat man en vrou albei gelyke in God se oë is. Vir my beteken hierdie, dat mans nie voorkeur moet kry as dit kom by seks nie. Hy mag nie dink dat net omdat hy man is, mag hy voorskryf hoe gereeld hulle gemeenskap het nie. ‘n Gesonde verhouding is een waar man en vrou sit en bespreek wat is elkeen se behoeftes. Hier kan die man met sy vrou deel hoe gereeld het hy ‘n behoefte aan seks, asook watter tiepe seksuele gedrag en praktyke hy sal geniet. Die vrou kan dan saam bespreek wat gaan vir haar werk en daar kan ‘n kompromie bereik word. Moet my nie verkeerd verstaan nie, hierdie gesprek is nie daar om spontaneïteit te ontneem nie. Die doel is om eenheid en eer aan mekaar te toon. Daaruit sal ‘n gemaklike seks verhouding ontaard waar beide die man en vrou seks kan inisieër, maar ook weier indien hulle so voel. 1 Korinthiers 7:5 praat van ‘wedersydse toestemming’ as dit kom by seks onthouding.

 

  1. Petrus bemoedig paartjies om saam te bid (‘julle bid’). Ek wil saam stem en paartjies nooi om oor hulle seks lewens ook te bid. Ons bring alle ander versoeke na die Here. Hoekom ook nie hierdie mees intiemste deel van ons lewens wat God gemaak het en vir ons geskenk het nie?

 

 

Die definisie van intimiteit is ‘om naak te staan voor mekaar en geen skaamte te voel nie’ (Genesis 2:25). Die naaktheid is spesifiek emosionele naaktheid. Oop en eerlik, sonder geheime. Sonder iets wat jy wegsteek. Wanneer ‘n vrou ongewillig seks vir haar man gee, is sy eintlik oneerlik met hom. Haar hart is nie daarin nie. Nou daar is tye in ‘n huwelik wanneer daar opoffering moet wees en ‘n party gee toe vir die gesondheid van die verhouding. Maar in die meerderheid, moet daar totale eerlikheid wees wanneer ‘n vrou (of man) kan bieg dat sy nie nou ‘in die mood’ is nie. En haar man, met liefde, haar vryspreek, en sê, “dis okei, ek sien uit na volgende keer”.  Ek glo, dit is ware intimiteit.

 

Die grasie wat ‘n man dan aan sy vrou skenk behoort liefde en respek weer in haar hart vir haar man te laat groei. Sy moet dan dit haar doel maak om sodra moontlik weer toenadering toe soek en haar man te nooi na ‘n gesonde liefdespel. Nie omdat sy haar plig by hom moet doen nie, maar omdat sy hom en seks saam met hom mis. Omdat sy graag een wil word saam haar geliefde. Omdat sy verlang om plesier en genot te ervaar.

Die ander groot taboe is om jou man toestemming en seën te gee om homself te plesier in daardie tye wat die vrou nie kan nie. Dis ons siening hier by Gesonde Seks dat elkeen verantwoordelik is vir sy eie seksualiteit. As die man altyd na sy vrou gaan kyk om hom te bevredig, gaan sy hom dikwels teleurstel. As die vrou altyd na haar man kyk om haar te laat goed voel en orgasme te laat bereik, gaan sy ook baie keer onbevredig voel. Daarom, is elkeen verantwoordelik om te leer hoe werk hulle liggame, om hulle seksualiteit te verstaan, aanvaar en te bestuur. Met ander woorde, wanneer die vrou seks weier, moet sy dink hoekom weier sy? Het sy nodig om ‘n dokter te gaan sien oor haar hormone? Het sy ‘n berader nodig? En sy maak werk van haar gevoelens sodat sy weer seks sal WIL hê met haar man. Sy praat openlik met haar man oor al die dinge wat in haar kop aangaan. Sy hoor waar is hy in sy seksualiteit. Is sy libido moontlik op hol? Masturbeer hy moontlik al lank in geheim en voel so skuldig daaroor maar het nodig om ontslae te raak van opgeboude testosteroon?

Om op te som:  Dis tyd vir meer eerlikheid in die huwelik. “Faking” is oneerlik. Lê en wag tot dit verby is, is dalk eerbaar maar ongesond vir jou en jou huwelik. Dis nie wat ‘n man wil hê nie. Hy soek nie ‘n blaas-op pop nie. Hy soek seks met sy vrou wie seks met hom wil hê!

Skryf in vir ons Gesonde Seks Mentorskap program om ‘n nuwe en vars siening te kry oor seks in die huwelik en as ‘n gesonde deel van jou lewe. Klier Hier of gaan na ons webwerf www.gesondeseks.co.za en kliek op Mentorskap

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out / Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out / Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out / Change )

Google+ photo

You are commenting using your Google+ account. Log Out / Change )

Connecting to %s